Thursday 21 January 2016

Laaste WP byeenkoms

Sondag 17 Januarie is die 3 de Open Water Challenge van WP Aquatics by Eikenhofdam in Grabouw gehou. Ek het my inskrywing Saterdag betaal en Maandag ge epos. Toe ek wil registreer is my naam nie op die lys nie. Gelukkig het hulle wel my betaling gesien en kon ek net n inskrywingsvorm voltooi. Dit is jammer hulle plaas nie meer die inskrywingslyste op die website nie, daar kon mens kontroleer of hul wel jou besonderhede ontvang het.

Dit was winderig- gelukkig, anders het ons in die hitte gebraai. Dit het redelike golfies op die dam gemaak. Ek geniet dit as die dam lewendig is, dit is opwindend en 'n uitdaging. Daar was heelwat inskrywings in die 3 kilometer, maar gou na die wegspring was ek sommer agter. Later gewaar ek n geel swempet voor my en besluit om die swemmer te probeer in haal. Maar nee wat hy/sy was te sterk vir my. Toe sien ek die blou kep swemmer hier skuins agter my en besluit maar nou gaan ek maar sorg dat jy nie voor my kom nie.

In verlede week se oefening moes ek leer om my SPL per swembad lengte konstant te hou . Dan moes ek vinniger swem deur of my hand vinniger agter uit te haal, of effens vroeër met die "catch" te begin, bietjie verder na voor te strek en ook om meer druk op die water uit te oefen in die "catch" posisie. Dit bring noodwendig mee dat mens nog n haal nodig het om die lengte van die swembad te kan swem. Die verdere opdrag was om dan weer die vorentoe strek n bietjie verder te maak. Te wag totdat die regterhand in die water in gly voordat die linkerhand in die "catch" posisie beweeg. Dit maak dan dat 1 minder haal nodig is vir die lengte van die swembad. My standaard hale vir die 25 yd swembad is 17, vir 25 meter is dit 19 en vir die 50 m swembad in Malmesbury is dit 45.

Met my swem by Eikenhof het ek al hierdie nuut verwerfde vermoeëns ingespan om te sorg dat ek voor die ander swemmer bly. Sy was voor my by een booi en ek het my toe voorgeneem om vinnig genoeg na die volgende booi te swem en daarom te swem dat ek voor kan bly. Tot haar krediet het sy mooi by my gebly en slegs n paar sekondes na my klaar gemaak.

Ongelukkig het ek nie haar naam gevra nie. Daar het iets by die tyd houers verkeerd geloop. My tyd was 1 uur 3.57 minute. Maar daar was geen swemmer met n tyd net daarna (of daarvoor) nie. Toe ek dit besef het ek gaan navraag doen maar omdat ek nie haar naam geken het nie kon ons die situasie nie oplos nie. Dit was n baie lekker swem wat aan my bewys het dat ek maar kan versnel en nie van uitputting in mekaar sal sak nie! Dit het my baie lekker selfvertroue gegee!
Jeanne Degenaar het die foto geneem- ek kan nie onthou dat ek my tevredenheid met die swem so gewys het nie.

Die 1 km swemmers was so n groot klomp dat hulle die ouderdomsgroep vir die dames verder verdeel het. Hier het ek die heeltyd gevoel of ek in n groep swem en ons was sommer so 7 swemmers (een 'n klein dogtertjie van seker so 8 jaar oud) wat saam klaar gemaak het. My tyd was 21:22. Ek wou baie graag onder 20 minute eindig en kry dit al in die swembad reg- nou moet ek nog net teen die elemente dit ook kan maak.

Terwyl ons geswem het, het die brand wat op die plase naby Grabouw deur die nag geblus is weer opgevlam en die donker rook wolke het ons vertel van die gevegte wat die boere teen die vuur moes uitvoer. Ons het veral aan ons mede swemmer Tommie Kruger gedink wat die swem gemis het omdat hy die brand bestry het.

Die volgende WP byeenkoms is 13 en 14 Februarie maar ek sal dit ongelukkig misloop want ek gaan weer die Midmar swem.

Sien julle in die water
Marié


No comments:

Post a Comment