Wednesday 23 September 2015

Goeie Gewoontes

My grootste uitdaging na die drie maande se min swem oefening is om weer die goeie gewoonte te vestig. Die geheim is om op te staan, aan te trek en te ry. As ek eers kyk hoe die weer lyk, of buite toe gaan om te voel hoe koud dit is, praat ek myself maklik uit die swem uit. Vanoggend het ek net gegaan. In die motor sien ek toe dat dit maar 11 grade buite is, wat toe na 10 grade verminder!

Die water was gelukkig op 17 grade warmer as die ander dae so dit was eintlik maklik om in te gaan. Vandag het ek gekonsentreer om my SL (Stroke Length) langer te maak. Dit doen ek deur vorentoe te strek, wat my outomaties op my sy laat kantel en my dus ook terselftertyd meer vaartbelyn maak aangesien ek op my sy minder weerstand teen die water massa bied. Dan moet ek konsentreer om n "patient lead hand" te hou en te wag tot my ander hand die water in gaan alvorens ek die volgende haal begin. Dit verhoed dat ek onstabiel in die water raak en behou n vorentoe gly aksie.  Dit is nou jare se slegte gewoonte van malende arms wat ek moet probeer verbreek.

Vandag was ek weer eens so bly dat ek nie met n plankie hoef te skop nie. Eintlik was "Speed Boat" waar mens sonder n plankie moes skop met jou kop tussen jou uitgestrekte arms, nog erger. As jy dan jou kop lig om asem te kry het jou bene gesink en moes jy veg teen hierdie gevoel dat jy gaan verdrink. Wat ons nie aan gedoen is in die naam van goeie swemlesse nie! Met TI  hoef ek glad nie te skop nie. Ek druk net met my voet so teen die water om te help dat ek meer op my sy kantel. Dit is glad nie n uitputtende skoppie nie.

Ek het ook daarop gekonsentreer om "propulsion" te bewerkstellig deur my "high hip" vorentoe te beweeg wanneer ek my arm vorentoe werp. In hierdie rotasie word energie na vore gekanaliseer.  Hier is nog baie versnelling weg gesteek, want ek kan voel as ek dit met tye doeltreffend reg kry, hoe ek versnel. My beste SPL vandag was 16 oor die 25 jaart swembad maar ek het oor die algemeen 17 en 18 hale geneem. Ek gaan nou eers baie hard daaraan werk om dit te verlaag na 14-16 hale. Ek weet reeds dat ek nie hou van n vinnige SR (stroke rate) nie en om die wiskunde reg te kry is die enigste oplossing om op lang effektiewe hale en minder daarvan te konsentreer.

Ten spyte daarvan dat ek glad nie op spoed gekonsentreer het nie, het ek n gemiddelde tyd van 1 min 49 sekondes per 100 jaart geswem. Dit teenoor 3 dae terug waar ek op spoed gekonsentreer het en slegs 2 sekondes vinniger per 100 jaart was. Dit is duidelik dat hierdie die wen pad is en dat ek net meer effektief moet wees in my poging om my SL langer te maak en my SPL (Stroke per length) te verminder.

Wanneer laas het jy jou hale per lengte getel? Hoe meet jy jou effektiwiteit?

Swem en geniet elke oomblik.

Marié

2 comments:

  1. Hi,Marie kan ek asb vir jou n paar vra vra?

    1)Waarom is fiksheid noodsaaklik?

    2)Waarom is tydsbestuur noodsaaklik vir goeie gewoontes?

    3)Sou dit beter wees as kinders in groepe oefen?

    ReplyDelete
  2. Die vrae moet jy maar vir die experts vra Bianca- ek is net n swemmer. (My spesialiteit is dieetkunde, kwiltwerk en melkery bestuur- daardie soort vrae kan ek beantwoord), Ek persoonlik dink nie tydsbestuur is noodsaaklik vir goeie gewoontes nie. Om n gewoonte te vestig is dit die maklikste om dit in n bestaande roetine in te sluit en dit dan soort van outomaties te doen. Natuurlik as dit tyd neem soos swem oefening moet jy die nodige tyd hê of vroeër opstaan.

    ReplyDelete