Saturday 26 September 2015

Erfenisdag Swem

Ek het lank gewik en geweeg of ek vir die 1 of 3 myl sal in skryf by hierdie swem. Gelukkig het wysheid seëvier en ek het vir die 1 myl ingeskryf. Toe ek nader aan die laaste booi swem was ek so bly ek hoef nie nog 2 maal weer daarom te swem nie. Ek was nog nie moeg nie en sou sekerlik nog n myl kon swem, maar daarna sou die koue net te erg vir my gewees het.

Die water was 13 grade wat heelwat warmer was as baie ander swemme. Dat dit nog steeds baie koud is moet jy verseker weet. Ons moes in swem tot by die booi waarna Derrick die afsetter fluitjie sou blaas. Ek het rustig geswem om eers aan die koue gewoond te raak. By die booi gekom sien ek almal is al aan die swem so ek swem toe ook maar net saam.

Met my eerste 1SOMS swem het ek gewag dat almal eers weg trek. Ek het gou besef dis n fout want toe moet ek alleen op my eie swem. Ek sorg dus as ek enigsins kan om saam met die groep swemmers weg te trek. Na n afstand dun ons uit en beland ek altyd by n groepie wat min of meer so vinnig soos ek swem. Ek sien baie sleg op die water en dit is vir my net makliker om die swemmers rondom my dop te hou.

Tot by die laaste booi voor ons moes draai het ek weer so n lekker groepie gehad om saam mee te swem. Na die booi het die groepie uit mekaar begin swem. Ek kon darem die heel tyd swemmers sien. Ek het soos so dikwels vergeet om my Garmin aan te sit en dit eers na so 600 meter aan gesit. Ek het baie stadig geswem, 2 min 21 sekondes per 100 meter. Ek skryf dit toe aan die baie deinings op die see wat mens nogal rond geskommel het en ook aan die gety. Alhoewel ons seker met die uitswem deur die gety bevoordeel is, was die terugswem defnitief deur die gety bemoeilik. Dankie tog dat ek nie 3 myl geswem het nie en 3 maal teen die gety moes beur nie.

Na die swem was ek nie so koud nie, maar het geleidelik al hoe kouer en kouer geraak. Ek was darem goed gewapen met n kombers en watersak, maar het dit eers aan n jong man geleen wat dit defnitief meer as ek nodig gehad het. As mens nog nie aan die koue water blootgestel was nie, weet jy nie om gewapen na die swem te kom nie. Ek is bly dat ek darem al minder geaffekteer word deur die koue water as aan die begin.

Ons was 68 swemmers wat die myl geswem het. Ek het 35 ste in die groep gekom met n tyd van 37 minute 26 sekondes. Uit die 12 vroue wat sonder n "wet-suit" geswem het was ek 4 de.

Dit was n baie lekker swem en n goeie begin vir die seisoen vir my.

Na die swem het ons gaan eet by TASHA en toe het ek 'n nuwe Arena swembroek gaan koop. Na twee jaar is die meeste van my swembroeke gaar. Ons kry toe hierdie dames, so mooi aangetrek vir Erfenisdag by die winkelsentrum.

Die dag is wel met n stukkie braaivleis af gesluit!

Marié



No comments:

Post a Comment