Thursday 26 February 2015

Oefen by RPC

Ons plaasdam op Goedertrou is basies leeg. Die bietjie water wat oor is het ook baie alge in en ek moet sekere dele van die dam vermy. Knolfontein se lekker groot dam is nou 'n heelwat kleiner dam- darem nog steeds 500 m in die rondte. Die probleem is dat ek daar deur goed aangeval word wat my vreeslik byt en ek elke slag as ek daar geswem het lyk soos een met Duitse masels! Ek het ten minste 20 byt plekke oor my lyf.

Gelukkig was Alan Zondagh van die Rugby Performance Centre so vriendelik om my toe te laat om weer in hulle swembad te swem.

Ewe skielik is my tye sommer baie beter as net die vorige dag toe ek in Malmesbury geswem het. Ek vermoed onraad en tree die swembad af. Dan gaan n lig vir my op. Die swembad is seker meer as 50 jaar terug gebou toe die Sement fabriek nog deur die Ingelse besit is en Cape Portland Cement geheet het. Hulle het dit natuurlik in Yards gebou en nie in meter nie. 25 Jaart is net onder die 23 meter en ek swem ongelukkig nog teen dieselfde spoed. (Die sportgronde is verkoop en tans in die besit van Alan Zondagh wat sy Rugby Performance Centre hier gevestig het)

Dit is nou weer lekker om gereeld in die swembad te oefen. Ek kan my effektiwiteit meet en bepaal of my verstellings 'n verbetering in spoed bewerkstellig. Ek moet soggens voor 8 uur klaar geswem wees. Dit is n goeie begin vir elke dag. Waar ek twee jaar terug gesukkel het om in die water te gaan as dit nie n lekker son skyn dag is nie, is dit nou vir my tweede natuur en gaan ek maklik selfs in die half donker in die water. Ek moet 6vm by die swembad wees as ek 4-5 km wil swem.

Ek is ingeskryf by die Total Immersion Academy. Dit kos n maandelikse fooi maar daarvoor is al die videos en ook Terry Laughlin se nuwe boek op die Akademie beskikbaar. As mens raad nodig het is daar altyd n TI coach op die forum om te help. Suzaan Atkinson het ook n 12 weke program hierop wat ek nou gaan begin volg.

Ek lees gereeld Mat Hudson se blog. As n fondasie om jou swem tegniek te bou stel hy dit dat jy in n proses moet glo en die proses moet vertrou. Dit het ek nou net weer besef. Daar is baie verskillende benaderings in die swem wêreld. Ek glo in die Total Immersion filosofie en in my aanlyn afrigters. Ek kan nie n baster benadering volg deur ander idees met TI idees te vermeng nie. Dan sal die proses nie effektief wees nie en sal ek nie resultate verkry nie. Sommige benaderings soos die een waar krag en vinnige SR beklemtoon word is nie versoenbaar met TI nie. Total Immersion beklemtoon juis dat hierdie tegnieke oor n kort afstand werk maar oor die langer afstande soveel weerstand kan veroorsaak- n 10 % groter spoed veroorsaak 80 % meer weerstand, dat dit net te uitputtend is om volhoubaar te wees. Volgens die TI proses is balans en vaartbelyning die boustene waarop spoed later gebou word. Hierdie boustene moet gereeld verfyn word deur te probeer vasstel waar verbeterings nog aan gebring kan word.

Ek weet reeds dat ek nie altyd my kop in die water laat hang nie en dat ek met asemhaling my kop ook oplig en nie net draai nie. Hierdie aspekte gaan my fokus punt vir die volgende twee weke wees. Swem op die TI manier betrek jou verstand en jou liggaam en om so intens betrokke by die proses te wees is opwindend en maak elke swem n unieke ervaring. Geen vervelige op en af swemmery vir n TI swemmer nie!

No comments:

Post a Comment